Ken die Karoobossies: Ystervarkbossie, gifbol en silwerkaroo
Landbouweekblad sit die reeks oor karooplante voort met die ystervarkbossie, wat nie juis weidingswaarde het nie, die gifbol en die nuttige en smaaklike silwerkaroo.
YSTERVARKBOSSIE
Gewone naam: Ystervarkbossie (kleinswartstorm)
Wetenskaplike naam: Thesium hystrix
Familie: Santalaceae
Dié stewige, harde bossie bestaan uit ’n kenmerkend donkergroen takraamwerk waaruit kort, stewige, blaarlose en skerppuntige takkies byna reghoekig met die hoofstammetjies spruit. Die groen stammetjies verrig die funksie van blare; die blaartjies is swak ontwikkel en rudimentêr.
In sy geheel vertoon die bossie “doringrig”. Die bossie is gewoonlik 20-50 cm hoog en wyer as wat dit hoog is.
Die wortelstelsel bestaan uit ’n enkele dik, vertakte hoofwortel waaruit een tot meer stamme spruit.
Die ystervarkbossie blom gewoonlik in Oktober en November, maar blomme kom soms ook gedurende die lente of middelsomer voor. Die blommetjies is klein, roomkleurig en yl versprei deur die takraamwerk.
Gewoonlik is daar ietwat meer blommetjies in die onderste en meer beskermde dele van die plant.
Die bossie kom wyd versprei voor, maar word veral aangetref in die oostelike Kalahari-doringveld en die sentraal-noordwestelike Karoogebied, van waar dit verder ooswaarts strek na die oostelike gemengde Karoo en aangrensende gebiede.
Die ystervarkbossie groei hoofsaaklik op droë vlakteveld, veral op die kalkagtige soorte, lae, klipperige rante, en soms op turfgrond en brakveld.
Die bossie word meer dikwels op dié grond aangetref wanneer dit aan blad-erosie onderhewig is. Die bossie vorm nooit ’n stand nie, maar waar dit voorkom, is dit gewoonlik yl versprei tussen die ander bossies. Soms groei dit binne-in ander bossies en neig selfs om parasities te wees.
As gevolg van sy harde en stekelrige geaardheid word die ystervarkbossie nie deur vee gevreet nie. In straf beweide veld en gedurende droogtes toon dit egter byna altyd tekens dat vee daaraan gevreet het. Die bossie kom voorin selfs die strafste beweiding s toestande e nis ook droogtebestand.
GIFBOL
Gewone naam: Gifbol (seeroogblom, kopseerblom, gifui, malgif, malkopgif, boesmangif, Cape poison bulb, sore-eye flower, candelabra flower, century plant) Wetenskaplike naam: Boophone disticha Familie: Amaryllidaceae
Die gifbol bestaan uit ’n groot ondergrondse bol wat gewoonlik 20-25 cm in deursnee is en ietwat langer as wat dit breed is. Die bol kan egter ook ’n reuse-grootte van meer as 40 cm in deursnee bereik. Die bopunt van die bol is soms bokant die grond sigbaar.
Die blare is groen, plat en lank en sprei waaiervormig uit die top van die bol uit; die blare verskyn nadat die plant geblom het.
Aangesien die bol vlak in die grond geleë is, is dit ook dig bedek met ’n vliesagtige laag van ou “bolblare”. Op dié manier word die bol teen temperatuur uiterstes en uitdroging beskerm. ’n Tros dik wortels strek van die onderpunt van die bol die grond in.
Die gifbol blom in November en Desember, maar kan ook vroeër blom. Die “blom” bestaan uit ’n groot aantal helderpienk, rooipienk tot roosrooi blommetjies met duidelike geel meeldrade. Die blommetjies word op lang steeltjies gedra wat op die punt van ’n kort, stewige, plat bloei-as ingeplant is. Die bloei-as spruit uit die top van die bol.
Die blommetjies – 70 tot 100, of selfs meer – kom dig saamgepak voor en vorm ’n skouspelagtige “sambreeltjie” of blomskerm. Die bloei-as is soms só lank dat die “sambreeltjie” op die grond lê. Met rypwording verdroog die “sambreeltjie” en word dit deur die wind voortgerol om só die saadjies te versprei.
Die gifbol is betreklik skaars en word sporadies in die Karoo en elders in Suider-Afrika aangetref.
Dit groei hoofsaaklik op vlak vlaktegrond, maar word ook op die klipperige rante en in grasveld aangetref. Dit word nie in brakveld gevind nie.
Dié bolplant het geen weidingswaarde nie. Dit bevat sterk giftige bestanddele, wat hoofsaaklik hart-en maag derm gifstowwe is.
SILWERKAROO
Gewone naam: Silwerkaroo (karooganna, springbokganna)
Wetenskaplike naam: Plinthus karooicus
Familie: Aizoaceae Silwer karoobossie sis 20-30 cm hoog en gewoonlik heelwat wyer as wat dit hoog is. Dit bestaan uit ’n aantal stewige, houterige, ietwat neerliggende, verwronge en gesplete stammetjies. Die dikker stammetjies het elkeen ’n afsonderlike wortelstelsel. Die wortelstelsel bestaan uit ’n hele aantal stewige wortels wat eers effens sywaarts uitsprei en dan regaf tot op ’n diepte van meer as 100 cm in die grond indring.
Die takkies van die bossie is dig bedek met kort, ietwat sukkulente, driehoekige, spits blaartjies. Die blaartjies is uiters fyn bedek met silwerkleurige, syagtige donshaartjies wat aan die plant ’n ligte silwergrysgroen kleur gee. Gedurende droogtes word die blare vaal tot effens geelgroen en verdor soms tot ’n vuil donkerbruin en val gewoonlik af.
Die silwerkaroo blom in die vroeë somermaande. Die blommetjies is uiters klein. Ná ’n droogte, wanneer die takkies betreklik kaal is, word só baie blommetjies voortgebring dat die takkies en stammetjies lyk asof dit met ’n swaar, geel poeier bestuif is. Die saadjies, wat so groot soos ’n speldekop is, is swart en het ’n lae kiemkrag. Dit vereis besonder gunstige vogtoestande om te ontkiem en gevestig te raak.
Die silwerkaroo kom wyd versprei in die Karoo voor. Die bossie groei in ’n verskeidenheid veldsoorte en is nooit volop nie. Dit word aangetref op klipperige heuwels, voorskootvelde, kalkerige grond, in leegtes en in brakveld.
Die silwerkaroo is smaaklik tot baie smaaklik vir vee, en word gewoonlik kort gevreet. Dit word skynbaar nie gevreet wanneer dit blom nie. In gunstige toestande kan dit betreklik vinnig groei en is ook droogtebestand.
Die bossie is onderhewig aan selektiewe uitvreting en is reeds aansienlik uitgedun en beslis aan die verdwyn. Waar die silwerkaroo voorkom, dui dit op goeie bossieveld of bossieveld met ’n goeie produksievermoë.